Terug op die blog na vele ervarings ...
Nie heeltemal herstel van die tibiale stressindroom (ons taal gekorrigeer deur Estelle, ons vriendin in Johannesburg) en besluit om die Noordelike roete af te sluit met ons aankoms in Ribadesella en met die Camino Primitivo te begin in Ovido. Ongelukkig nie n makliker roete nie en steeds oor berge en in dale, maar gelukkig: overal is God!
Mense in Oviedo en die Esturia area ook baie gaaf en die gastronomie hoog aangeskryf: kaas, boontjiebredie en cider is hul "claim to fame"
Terug na die vorige 10 dae.
Na Santander het ons lieflike dae beleef en pragtige natuurskoon. Santillana del Mar is n cute klein dorpie, vol karakter en hul is bekend vir hul donker sjokolade. Ons slaap daar in n mooi hotelletjie wat 50% afslag gee vir Pelgrims.
Effense verkeerde interpretasie van die weg het ons duur te staan gekom, ure later en baie km verder as wat ons moes stap het ons 21.30 die aan eers arriveer ( gelukkig bly dit laat lig) Absoluut vodde het ons in n hotelletjie op die see ingeboek, ons gelawe met Dom Martin (Vino Tinto), te moeg om te eet, warm bad en besluit om ons tyd en roete te her oorweeg.
Ons wil eintlik net fotos publiseer met n reeltjie of 2 om die storie te vertel, maar sukkel ons gedaan met die media, kameras, internetkafees en alles in Spaans. Susa is redelik gekonfyt en om tyd te spaar moes ek help met die fotos wat ek nie kon regkry en toe sy daar gaan red en ek verder kom skryf, slaag ek daarin om al haar skrywe te verloor terwyl die Euros op die meter aftik!! Sy het net gese dat ek regtig useless is en ´n paar ander minder mooi woorde net gedink!
Ons kry nie die fotos van my kamera afgelaai, maar sal maar nou publiseer wat ons kon aflaai.
Chao .....adios...tot ons weer gesels.
Maria
Nou is dit weer Susanna wat praat. Nee kyk, met my assistent het ek eintlik nie raad nie. Wat is haar beroemde aanhaling? Ek se maar niks, dan IS daar niks.
Om op te som:
Van Santander na Santillana del Mar; toe na Comillas waar ons heerlik bly en wasgoed was wat ons buite op die bossies in die son uithang; toe na San Vicente de la Barquera waar ons ´n jaarlikse, tradisionele fees belewe en ´n hele kerkoptog verby ons marsjeer. Eet hier ´n heerlike vet Spaanse vis wat my baie aan ons galjoen herinner! By Pendueles belewe ons die mooi, nuwe Albergue met sjarmante Javier wat ons vriendelik maar ferm vertel ons eet halfagt ontbyt en dan moet ons weg wees! Hy maak ons darem met mooi musiek wakker. By Playa de Po - net buite Llanes - belewe ons vir Ivan wat wierook brand in die Albergue. Ons was wasgoed, sit buite in die son en dateer ons aantekeninge op. Met my skrapse notas en ons gesamentlike (swak) geheues rekonstrueer ons darem ons reis tot op hede.
Op Woensdag, 17 April, belewe ons die asemrowendste dag ... sonskyn, see, rotse ... alles loop egter lelik skeef met ons misinterpretasie van geel pyle. Ons verdwaal vir ure en hobbel ´n hotel in Ribadesella binne. Dit is ´n aand vir ´n warm bad ... ´n Albergue met jillende jongelinge sal ons gladnie kan hanteer nie.
Ons is wel redelik uitgerus die oggend van die 18de, maar besluit om na Oviedo te bus en die Primitivo te begin. Die roete word in Duits vertaal as die "Oorspronklike" Camino ... blykbaar die eerste roete wat die pelgrims gevolg het.
Die naglewe in Oviedo. Nou straatjies met sluitsteentjies ... die mooie middeleeuse Katedraal ...
En ons belewe ´n wonderbaarlike restaurant ... met die beroemde kase en boontjiebredies (wat ons probeer ... regtig goed)
En ´n doedelsakspeler en sangers en gaste wat gees vang en dans ...
Ons bredie ...
En Susa skuur skouers met ... Woody Allen! wat in 2002 ´n soort toekenning van Oviedo ontvang het. Ons gebruik ons skrapse Spaans, Engels en Latynse kennis om die inligting te interpreteer!
Oviedo het die interessantste beelde - wat hul opdring aan jou ... om elke hoek en draai!