Wednesday, May 22, 2013

800 km later ... wat nou?


Wat gebeur met mens nadat jy so 'n tog aangepak en voltooi het? Mense vra my of ek anders voel. 'n Antwoord op so 'n vraag is nie maklik nie.  Ek sal waarskynlik oor 'n jaar 'n ander antwoord gee as wat ek nou gee. Die ervaring is nog te naby aan my om te weet.
Goed - aan die buitekant is ek nog dieselfde.  Ek het nie vetter of maerder geword nie;  ek is dalk bietjie meer bruingebrand.
Maar - dit doen iets aan 'n mens om vir 35 dae so 'n eenvoudige lewenspatroon te volg:  opstaan, sorg dat jy al jou besittings inpak, ontbyt en stap stap stap; rus en kyk ... met verwondering kyk en verder stap; slaapplek soek, eet en slaap.  Die rustigheid ... die vredigheid en eenvoud van die ritueel elke dag het tog die geleentheid geskep dat ek kon dink. Kon onthou. Mymer.  Bietjie huil en soms bietjie lag oor my gedagtes.
Goed, hierdie Camino is verby.  Dalk is daar in my toekoms nog 'n staptog, wie weet.  Intussen voel ek gelukkig met die wete:  ek het dit gedoen.  En dit was goed.

Wat onthou mens van so 'n lewensavontuur?  Die afstand wat jy per voet moes afstap?



Die skoonheid van die landskap?


Die rus en vrede ...
                                           

Die mooi kerke en katedrale?







Die voorreg en vreugde om die avontuur met 'n liefste vriendin mee te maak?


Dalk maar iets van dit alles ... maar ook veel meer.  Daar gebeur iets in mens se kop en lyf en wese as jy 'n afstand voetstap vir voetstap onderneem.  Jy sien en hoor beter.  Jy onthou dieper.

No comments:

Post a Comment