Friday, May 24, 2013

Maria se indrukke ... 24 Mei 2013

Vriendin Anna-Susanna het ons in Singapore kom besoek aan die einde van 2010. Sy het my so halfhartig uitgenooi om saam met hulle die Camino te stap in 2013 wanneer sy 60 word! Eerstens het ek nie van die "Camino" se bestaan geweet en tweedens kon ek glad nie sien hoe jy jouself sover in die toekoms kan verbind nie.

Wel  … nou is die Camino iets van die verlede en hier sit ek  om my indrukke te gee op versoek van die Camino-kommandeur, terwyl ek effe skryf-gestrem is.
Vir my wat wyd gereis, moeg geploeg en soms of deesdae meestal effe blaze is oor die wêreld en sy mensbesoedelde wonders, moet ek bieg dat dit welliswaar ‘n onvergeetlike ervaring was.
Die keuse van n stapmaat is natuurlik van kardinale belang en soos dit is, gaan die meeste mense solo, vir voor-die-hand-liggende redes. Anna & Maria was egter ,n gedugte span en goeie kombinasie in Spanje. Ons name was wyd en "syd" gebruik op straat, in kerk en bar en ons het baie tuis en geëerd gevoel dat daar soveel geboue, standbeelde en kerkies na ons vernoem is!! Soos dit is, ken ons mekaar ook reeds langer as die helfte van ons aardse bestaan …geen stres, baie pret, gemaklike stiltes en die gemeenskaplike doel om 800 km te stap op ‘n besonderse pad: Dele daarvan reeds lank voor Christus bewandel, pragtige natuurskoon, sneeu, wind en reën, hael....en dan weer perfekte Europese lentedae wat soos ons herfsdae voel. Gawe, hulpvaardige mense op ons pad en veral in die platteland het ons heerlik verkeer met die "boere-mense"sonder taal en baie sonder tand!  Van ons hoogtepunte was ons 4-been vriende … Susan en haar honde, ek en my "wilde" katte en dan die varke, donkies, skape, hoenders en perde  … almal stap nader vir ‘n vryf of n Maria-beskuitjie. Onse Marie-koekies  het Maria geword in Spanje en ons het dit oral in Alberge gekry by ontbyt - en so honger was ons selde of ooit!!

Ten spyte van my relatiewe vryheid van beweging en ongeroetineerde, opwindende bestaan, was dit tog vir my n anderse ervaring om vir 5 weke met net die basiese klaar te kom en dit wat jy nodig het daarvoor op jou rug te dra!! My styl!
Soms is ons gemaksones ver oorskry deur die elemente,  fisiese ongemak en pyn, maar dan is ons altyd op die regte tyd beloon met n skuiling teen wind en weer, ‘n halfuur se rus in ‘n lou-warm sonnetjie, ‘n welbehaaglike warm bad om seer en koud te verdryf, heerlike vullende Spaanse boerekos, veral Fabada (‘n soort witboontjiebredie) … ‘n bar wat verrys uit die niet net wanneer ons smag na ‘n koue biertjie uit die vat, liters ligte Spaanse rooiwyn om die onweerstaanbare (verpestelike) Spaanse brood (in oorvloed) mee af te spoel!

Van my voorneme om die rolletjies af te stap het niks gekom nie, want ek moes - natuurlik teen my sin - met geesdrif eet om te voorkom dat daar n 60-jarige geraamte terugreis na Windhoek … maar so onbaatsugtig is ek nou maar! 

Dankie Susa dat ek dit met jou kon meemaak, natuurlik ook ‘n diepe dankbaarheid teenoor ons Skepper vir die gesondheid en voorspoed op ons pad. Sonder my wonderlike vrygewige "Baas" se betaalde langverlof sou dit ook nie moontlik gewees het nie. Dankie Tanya. Viva Espana, la vida es grande!!






Wednesday, May 22, 2013

800 km later ... wat nou?


Wat gebeur met mens nadat jy so 'n tog aangepak en voltooi het? Mense vra my of ek anders voel. 'n Antwoord op so 'n vraag is nie maklik nie.  Ek sal waarskynlik oor 'n jaar 'n ander antwoord gee as wat ek nou gee. Die ervaring is nog te naby aan my om te weet.
Goed - aan die buitekant is ek nog dieselfde.  Ek het nie vetter of maerder geword nie;  ek is dalk bietjie meer bruingebrand.
Maar - dit doen iets aan 'n mens om vir 35 dae so 'n eenvoudige lewenspatroon te volg:  opstaan, sorg dat jy al jou besittings inpak, ontbyt en stap stap stap; rus en kyk ... met verwondering kyk en verder stap; slaapplek soek, eet en slaap.  Die rustigheid ... die vredigheid en eenvoud van die ritueel elke dag het tog die geleentheid geskep dat ek kon dink. Kon onthou. Mymer.  Bietjie huil en soms bietjie lag oor my gedagtes.
Goed, hierdie Camino is verby.  Dalk is daar in my toekoms nog 'n staptog, wie weet.  Intussen voel ek gelukkig met die wete:  ek het dit gedoen.  En dit was goed.

Wat onthou mens van so 'n lewensavontuur?  Die afstand wat jy per voet moes afstap?



Die skoonheid van die landskap?


Die rus en vrede ...
                                           

Die mooi kerke en katedrale?







Die voorreg en vreugde om die avontuur met 'n liefste vriendin mee te maak?


Dalk maar iets van dit alles ... maar ook veel meer.  Daar gebeur iets in mens se kop en lyf en wese as jy 'n afstand voetstap vir voetstap onderneem.  Jy sien en hoor beter.  Jy onthou dieper.

Sunday, May 12, 2013

Maria

Mens verwag om in 'n Katolieke gemeenskap dikwels die naam Maria tee te kom:








My stapmaat se naam is selfs in graffiti verewig!


En kyk hoe lyk Spaanse Marie-koekies!  Ons het hierdie pakkies dikwels by ontbyt gekry en langs die pad vir die perde gevoer.

Tekens langs die pad

Die Camino was 'n klein bietjie soos 'n skattejag ... ons het deurentyd gesoek vir die kenmerkende geel pyle en skulpe wat die rigting aantoon. Ek lees iewers dat Jakobus met die skulp as teken verbind is - ons kry dan ook verskillende voorstellings van die skulp op ons pad.

Hierdie padwyser is die heel eerste ene wat ons gekry het in San Sebastian.  Kyk net daardie stapstokke ... en die vars stappers in die volgende foto.



Hierdie bord het ons laat besef dat ons 'n lang pad voor ons het!



Soms was die houtborde wat afstand wys 'n aanmoediging ...


en soms het die besef dat daar nog ure se stap voor ons uitstrek sy eie eise gestel!




Sommige aanwysings was ietwat onkonvensioneel.


Ek het 'n vriendin gevra om vir my en Maria elk so 'n hangertjie te maak met Camino-skulpies.  Baie pelgrims het skulpe op hulle rugsakke uitgestal ... maar nie so mooi soos ons s'n nie!                    

Lekker Albergue hierdie!





Hierdie pragtige keramiekteeltjie het ons dikwels teegekom.



Nou en dan kon ons darem op openbare paaie sien of ons nog in die regte rigting loop!






Daar was ook soms ander soort borde wat inligting oor 'n spesifieke punt of omgewing verskaf het.











 Lugo was een van die hoogtepunte op ons tog ... ons was hier nog oppad daarheen.  'n Stad wat meer as 2000 jaar oud is!


Hierdie bordjie was nie net 'n aanwyser nie, dit was ook 'n versiering teen 'n privaathuis.


Hierdie vrolike bord het ons raakgeloop met 'n uitnodiging om koffie, tee en stempels te kom kry in ruil vir 'n glimlag!  'n Vriendelike kunstenaarsvroutjie het 'n paar meter verder ons ingewag ...


Hierdie tekens is redelik prominent in die dorpe en stede opgerig.



Ons harte het vinnig geklop toe ons uiteindelik die naam:  Santiago op die openbare paaie begin gewaar. Die einde van ons Camino was in sig.



 By die begin van Santiago het hierdie bord die uitgeputte pelgrim meegedeel dat dit net 10 minute na die katedraal is.  Dit het ons ongeveer 2 ure geneem!

Thursday, May 9, 2013

Foto's van die laaste dae ...


Dis soos mens lyk op die voorlaaste stapdag na Santiago.  Hier het Maria in Salceda halt geroep.  Ek het gaan soek na 'n kafee daar naby sodat ons eers die innerlike kan versterk voor ons slaapplek soek.



Oppad het ons 'n klein kapel gekry wat oop is.  Ek het kersies opgesteek vir almal wat aan ons gedink en ons met hulle boodskappe, liefde en gebede ondersteun het.


Hierdie pelgrimsteken het 'n baie funky (vroulike!) stappertjie op.  Ja ... mens moet geslagssensitief ook wees!



Dit was wonderlik om die eerste verkeersborde te sien wat wys ons is naby Santiago.


Net soos by Oviedo, was daar oppad na Santiago hierdie voorstelling van die skulp wat die pad aanwys.


Ons was baie bewus dat ons lang staptog besig is om af te loop. Ons het vir oulaas die pragtige landelike omgewing geniet.




Hoe lyk ons?  Nie te sleg vir stappers met byna 800 km agter die blad nie, of hoe!



Die wind het hierdie gras laat huppel soos in Toon van den Heever se In die Hoeveld.



Nog 'n kansie gekry om suikerklontjies uit te deel.


Van laaste dorpies wat ons deurstap voor ons by Santiago aankom.


Ons tref hierdie beeld met die woorde:  SANTIAGO by die begin van die stad.


Jy word verwelkom met vlaggies vanoor die hele wereld.  Nee, daar is nie 'n Namibiese vlaggie nie.  Sal dit moet aanspreek!


Selfs skulpe teen die muur.




Hierdie embleem staan net voor die geboue van Santiago begin.


Santiago se strate.

Daar speel deurentyd doedelmusiek by die katedraal.  Musiek wat uitgeputte pelgrims begroet wanneer hulle daar aangehobbel kom.


Mens kan rondom die indrukwekkende katedraal stap en aan elke kant getref word deur die fyn beeldwerk.



Hierdie kerkie van San Fructuosa staan oorkant die Santiago katedraal.  Die 4 beelde bo-op versinnebeeld volgens my gidsboekie:  ... the Virtues: Prudence, Justice, Strength and Temperance.


Hier het ons gestaan en gekyk hoe die son ondergaan.  Ons Camino was verby ...

Maar ons kon die pragtige paadjie sien wat ons besluit het om ook aan te pak oppad na Finisterre.  Dit is 'n volgende hoofstuk.  Ons wou net vir een dag rus en tot verhaal kom.