Waar begin 'n droom? Myne het sy oorsprong gehad toe ek vier jaar gelede met vriendinne op 'n gasteplaas naby Sossusvlei gestap het. In ons gesprek hoor ek toe vir die eerste keer van die pelgrimstog in Spanje: Die Camino de Santiago de Compostela. Ek was absoluut gefassineerd om te hoor dat mense tyd kan afstaan om honderde kilometers te stap. "Ek wil dit doen!" het ek op 'n stadium uitgeroep ... en toe besef dat ek dit bedoel. Ek het nog nooit in my lewe vreeslik avontuurlike projekte aangepak nie; dalk is dit 'n droom waaraan ek kan werk en skaaf sodat dit werklikheid kan word.
Toe ek weer tuis is, het ek baie navorsing gedoen oor die Camino en besef dat daar meer as een Camino roete is - nie net in Spanje nie, ook in ander dele van Europa. Om 'n tyd te koppel aan die staptog, het ek besluit om te mik vir die jaar wanneer ek sestig word. Dit is tog seker 'n soort mylpaal. Sestig jaar op moeder aarde. Sestig jaar van hoogte- sowel as laagtepunte. Ek dink ek moet hierdie tog werklik as 'n pelgrimstog aanpak: dink oor my lewe; dink aan die mense en gebeure wat my pad gekruis het; dink aan geleenthede wat ek gebruik of laat verbygaan het; keuses wat ek gemaak het. Ja, ek kan dink aan my verlede; maar dalk eerder aan die lewe wat nog voor my uitstrek. Ek stam uit 'n familie wat oud word - daar kan nog twintig of meer jare van my lewe oor wees.